Die Vrugte van Uithouvermoë
Haar wekker lui soggens om 03h15. Teen 04h00 sit sy agter haar lessenaar op kantoor. Haar dag begin altyd met ʼn vinnige oorsig van die oggendkoerante se voorblaaie. Sy kyk ook na haar e-pos en die vorige dag se hoofnuus op hul stasies (Kfm 94.5 en 567 Cape Talk).
Alida Raubenheimer is een van die Kaapse mees ervare en herkenbare joernaliste. Sy is al vir 16 jaar in die bedryf en oorspronklik van Pretoria. Raubenheimer is tans ʼn voltydse joernalis by Kfm 94.5 .
Sy het ʼn graad in besigheidskommunikasie by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys voltooi. Raubenheimer het nooit geweet sy sou ʼn joernalis word nie. “Dit was glad nie deel van my drome of ideale nie. Dit het per toeval in die skoot beland en ek het onmiddelik floreer.”
Sy het as vierdejaarstudent by Radio Oranje in Bloemfontein begin werk. Ná twee jaar is sy as voltydse joernalis aangestel. Die eerste jaar moes sy haarself toespits met baie leesstof en haar voete in die ateljee vind.
“Vandag is die mense waarna ek opkyk, Barney Mthombothi wat ‘n weeklikse rubriek in die Financial Mail het, en Max du Preez,”vertel sy.
“Vandaar gaan dit regtig dol: vertaal, redigeer, oorskryf, klank verfyn, oproepe, ateljee toe hardloop. Teen 09h10 kry ek my eerste kans om gou badkamer toe te gaan of koffie te kry, tensy iemand my vroeër jammer gekry het en met ʼn koppie boeretroos aangekom het,” vertel sy.
Raubenheimer dek daagliks ʼn verskeidenheid van gebeure wat die hoofnuus haal. Haar onlangse stories sluit in die politieke onluste in Egipte. Sedertien het dit oorgespoel na Libië.
Haar skryfstyl verskil van ander Afrikaanse joernaliste. “Eerlik! As ek oor iets wonder, gaan die meeste ander. So dis my eerste vraag en die staanspoor waaruit ek ʼn storie benader.”
Raubenheimer vertel soos in enige ander medium is daar voor- en nadele verbonde aan radio. Sy voel die Afrikaanse media is meer kreatief en het groter uitdagings as ander. “Omdat Afrikaanssprekende nuusmakers uiters skaars is, is daar baie minder geleenthede vir Afrikaanssprekende joernaliste.”
Om met bronne asook die luisteraars te kommunikeer, is vir haar baie belangrik. Sy vertel dat sulke interaksie joernaliste op hul tone hou.
Sy sien haarself as senior joernalis en konsultant oor die volgende decade.“ Ek wil ook graag teen dan fokus op boeke skryf.” Alida beskryf haarself as eerlik, passievol en baie toegewyd. “Ek stel ongelooflike eise aan myself en verwag niks minder van ander nie. Ek het die siel van ʼn sigeuner en die hart van ʼn leeu.”
Deur: Graig-Lee Smith
No comments:
Post a Comment